DIE ANGLO-BOEREOORLOG. 'n CHRONOLOGIE & DIE KAARTE
 

Die honderdjarige herdenking van die Anglo-Boereoorlog tussen 1999 en 2002 het die belangstelling in hierdie merkwaardige stryd op Suid-Afrikaanse bodem opnuut gestimuleer. Talle nuwe werke het in dié tydperk die geesdriftige leser verbly, en verskeie televisieprogramme het leuenstoelkykers se kennis verryk.

En omdat die Anglo-Boereoorlog in menige opsig ‘n waterskeiding in ons geskiedenis was, lyk dit vir my asof die belangstelling nog lank nie getaan het nie. In Januarie 2010 het die Natalse tak van die Krygshistoriese Vereniging van Suid-Afrika ‘n suksesvolle konferensie vir die 110-jarige herdenking van die Anglo-Boereoorlog in Ladysmith gehou, en so ook die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in September 2010 in Bloemfontein. Uitgewers met die ore na aan die grond besef dat lesers steeds meer wil weet en hulle versamelings wil uitbou.

Daarom is hierdie bygewerkte en uitgebreide Afrikaanse opvolg van Pieter Cloete se vorige The Anglo-Boer War: A chronology vir my so besonder welkom. Die samesteller het besonder baie moeite gedoen om die chronologie so na as moontlik aan volledig aan te bied – so na as moontlik, want inligting oor daardie onopgetekende skermutselings sal ons steeds ontwyk. Maar kyk na sy lys geraadpleegde bronne en sy endnote, en jy besef: Hierdie is ‘n deeglike werk, ‘n aanwins! Die skitterende kaarte – Pieter Cloete is immers ‘n argitek – en statistieke verskaf ‘n verdere wonderlike dimensie aan hierdie werk. Dit moet eenvoudig op die rak van elke belangstellende staan – en sommer binne reikwydte.

Professor Fransjohan Pretorius
Dept. Historiese en Erfenisstudies
Universiteit van Pretoria