

Op aandrang uit verskillende oorde is Pieter Cloete se unieke “The Anglo-Boer War: A Chronology” wat in 2000 verskyn het, totaal hersien, bygewerk, in ‘n ander formaat gegiet en in 2012 in Afrikaans uitgegee.
Die kaarte – nou in kleur en in ‘n aparte omslag – is uitgebrei en talle bronne wat gedurende die herdenkingstydperk verskyn het, is geraadpleeg om die chronologie meer volledig te maak. Hierdie publikasie is nou dalk een van die volledigste enkelvolume werke oor die onderwerp.
Hierdie is nie ‘n wetenskaplik-historiese ontleding nie, dit is ‘n chronologie: ‘n poging om ‘n beknopte, dag vir dag, slag vir slag opgawe van die elf maande wat die ultimatum voorafgegaan het en die 963 dae van die begin van vyandighede tot die finale vredesverdrag weer te gee.
Pieter Cloete is op Klerksdorp gebore. Hy studeer aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat waar hy die B. Arch-graad behaal. Hy praktiseer in Bloemfontein voordat hy in 1979 ‘n argitekspraktyk in Klerksdorp vestig. Hy hanteer ‘n wye verskeidenheid projekte regdeur die land en is betrokke by verskeie plaaslike gemeenskaps-, erfenis- en bewaringsaktiwiteite. Hy is getroud met Petro, ‘n onderwyseres en het twee dogters en ‘n seun.
Hierdie boek is die produk van ‘n lewenslange belangstelling in militêre geskiedenis en veral die Anglo-Boereoorlog.